Witblits se Donderdag 26 Junie 2025 Nuusflits
Hoof Nuusflits
ANC laat lugvaart val – met geen valskerm nie
As jy onlangs gewonder het hoekom jou vlug eers opstyg nadat jy jou pensioen getrek het, hier’s jou antwoord: Suid-Afrika se lugvaart is soos ’n taxi sonder remme – en die ANC hou die stuurwiel vas.
Aaron Munetsi van die Airlines Association of Southern Africa het die noodlanding verduidelik: navigasiedienste is in ’n toestand, instrumentlandings is meer wens as werklikheid, en vliegtuie wag in toue langer as vir graad R-plasing.
“Ons vlieg blind,” sê Munetsi. “En die ouens wat moet help, is óf afwesig, óf op kursus, óf bevorder tot minister.”
King Phalo en George se lughawens het reeds hul ILS-stelsels verloor – dis die goed wat help land as die weer sleg is. Dus moet vlieëniers óf kans vat óf kanselleer, en jy slaap toe maar oor in Bloemfontein.
Walkways werk nie meer, toilette is ’n dobbelspel, en passasiers betaal vir dienste wat net bestaan op papier – presies soos die ANC se verkiesingsmanifeste.
ACSA belowe intussen ’n opgraderingsprojek tot in 2027, met fokus op brandtrappe, toilette, en riolering. Dis blykbaar presies wat jy nodig het wanneer ’n Boeing nie kan land nie.
Plaaslike Nuusflits
Bokke in Braamfontein – en nie dié van Loftus nie
’n Trop bokke is bklykbaar die week in die middestad van Johannesburg opgemerk – en niemand het vreemd gekyk nie. Dis nie ’n protestaksie, ’n kultuurfees of ’n Telkom-staking nie. Dis net bokke. Lewendig. Onbegeleid. Tevrede.
Blykbaar het die trop het rustig deur die strate van die CBD gedrentel, tussen taxi’s, hawkers en desperaatheid, op soek na iets – moontlik gras, moontlik strukturele integriteit.
“As die water nie werk nie en die paaie vol gate is, wie gaan regtig omgee as ’n bok verbyloop?” het ’n winkelier gesê terwyl hy ’n selfie met ’n ram geneem het.
Die gebeurtenis volg ná jare se suksesvolle beleid van “transformasie deur verval.” Iewers tussen load shedding, sinkhuise en Staatskaping het die stad uiteindelik tot op ’n punt gedecoloniseer waar selfs die vee nou weer deel voel van die openbare ruimte.
Stadsraad het nie gereageer nie – waarskynlik omdat die WiFi in die raadsaal af is.
Internasionale Nuusflits
Polisie aan indringers: Asseblief tog, moenie die meisiekinders lastig val nie?
Die Britse polisie, in hul eindelose wysheid, het besluit om hordes jong invallers uit kulture wat glo dat bokke meer regte het as vrouens, op te voed oor basiese menslikheid — met ’n PowerPoint. Ja, ’n PowerPoint.
In kleurvolle skyfies word indringers wat op staatskoste in hotelle woon vriendelik versoek om:
Nie vroue lastig te val nie
Nie kinders te film by skole nie
Nie mense se honde te skop nie
En asseblief, net asseblief, moenie iemand verkrag nie
Die polisie waarsku selfs dat vloekwoorde in die openbaar as krimineel beskou kan word.
Witblits sê: Hulle noem dit Britse hoflikheid, ek noem dit morele selfmoord.
Konflik Nuusflits
Israel vernietig alles – behalwe Hamas, Iran se regime en die waarheid
Benjamin Netanyahu het ’n toespraak gelewer wat klink soos iets tussen 'n oorlogsverslag en ’n Torah-herlaai met homself as hoofkarakter, redder van Israel, wreker van wraak, en — as mens tussen die lyne lees — dalk selfs die verborge 13de stam.
“Ons het Teheran geskud met ’n brul soos ’n profeet,” het hy gesê, sonder skaamte of ironie. “Ons het hul kernfasiliteite vernietig, hul argiewe uitgevee, en 20 000 missiele van die tafel af gevee soos krummels ná Pesach.”
Bibi sê ook:
Israel beheer nou die lugruim oor Iran
Iran se regime het die swaarste slag in 50 jaar gekry
Hamas is aan die einde van hul dae
Die gyselaars kom huis toe
Die ekonomie gaan blom
En Israel gaan nou sommer ook vrede in die hele streek bring, as hy net gou sy asem kan terugkry
Die werklikheid?
Iran se regime staan nog
Die verrykte uraan is steeds daar (enigste verskil is nou weet niemand waar nie)
Iran het geen formele kerntoegewings gemaak nie, en het alle samewerking met die Internasionale Atoom Energy Assosiasie opgeskort
Hamas het nog sowat 40 000 vegters oor, net soos voor 7 Oktober
Israel moes Uncle Sam bel toe dinge begin brand
Maar hoekom feite in die pad laat staan vir ’n goeie wonderwerk? Hierdie is immers die man wat dink elke mikrogolf in Teheran is ’n verrykingsfasiliteit.
Witblits sê: As jy eers jou eie propaganda begin glo, is dit nie meer ’n oorlog nie. Dan’s dit ’n kultus.
Youtube Nuusflits
Trump bring vrede… en dan bring die CIA die res
Terwyl daar nog rook trek oor Teheran en die vredesooreenkoms skaars sy skoenveters vasgemaak het, pak die VSA reeds hul volgende fase aan: Operasie Maak Die Binneland Onleefbaar Tot Iemand Ons Bel.
Volgens Alex Christoforou van The Duran het die VSA nou hul spesialiteit geaktiveer — nie diplomasie, nie heropbou nie, maar daardie beproefde resep genaamd indring, infiltreer, destabiliseer en wag. ’n Staatsgreep op die afbetalingstelsel.
“Die Amerikaners speel lank,” sê Christoforou. “Hulle mors geld op alles anders, maar as dit by regime change kom, ontwikkel hulle skielik geduld soos monnike op Ritalin.”
Met Libië en Sirië as vorige suksesvolle mislukkings, blyk Iran nou die volgende bestemming vir die Amerikaanse Toer van Innerlike Wanorde. Die idee is eenvoudig: saai ontevredenheid, moedig verdeeldheid aan, en kyk dan hoe alles brand terwyl jy sê: “Ons bring demokrasie.”
Trump neem intussen krediet vir die vrede en noem dit 10D skaak. Niemand weet watter spel dit is nie, maar dit kom met ‘n PowerPoint en 'n gebakte duif.
X Nuusflits
Iran: Gevange binne, omring deur vlamme buite
’n Anonieme Iranse burger het die wêreld se luidrugtige geopolitieke kommentators stilgesit met ’n nugtere waarheid: “Ons haat ons regering, maar ons vrees julle vryheid nog meer.”
Dis nie meer bloot politiek nie — dis voortbestaan. Aan die een kant sit Iraniërs met ’n verrotte teokrasie vol geheime rade, krom ekonomieë, en revolusionêre wagte wat rewolusie al 40 jaar lank probeer voorkom. Aan die ander kant wag die VSA, Israel en NATO met oop arms en oop vuurkrag om "te help".
“Ons wil nie in ’n bunker woon nie,” sê die spreker, “maar as ek na Libië, Sirië en Irak kyk, lyk my dak nog heel goed.”
En dis juis die tragedie: Iran is nie stil omdat die mense die regime steun nie — hulle is stil omdat hulle weet wat gebeur as Westerse lande besluit om hulle te bevry.
In die Weste beteken vryheid dikwels net chaos sonder paspoortbeheer.
Kultuur Nuusflits
Voortrekkermonument nou ook Monument vir Middagetes
Dis nie net die witduiwe wat Dinsdae by die Voortrekkermonument opdaag nie. Dis ook tannies met krulkoppe, ooms met kieries, en ’n gesamentlike bloeddruk van 108 oor niks.
Mooigeleë-aftreeoord het dié week opgedaag vir ’n Monumenttoer en ’n maaltyd by Skool op Wiele (waar die kos glo sag is en die stoele hard). NG Rietvallei het nie agtergebly nie: museumteater, argiefbesoek, broodbakdemonstrasie – en waarskynlik ook ’n paar vuisgeselsies oor wie se oupa eerste op Bloedrivier was.
“Ons kom elke Dinsdag,” sê Tannie Magda met ’n koeksister in die hand, “want dis goedkoper as Woolworths en meer kultureel as kykNET.”
Met pakkette van R50 of R90 kan jy jou voorgeslagte eer én jou middagslapie verdien. ’n Dag vol geskiedenis, stories, en genoeg koffie om ’n Boereoorlog te herleef.
Witblits sê: Dis nie Alzheimer as jy elke Dinsdag terugkom nie – dis tradisie.
Sport Nuusflits
Skop, Skrik en Skietgebed – Skolerugby Saterdag kom soos ’n Stormwind
Dis weer daardie tyd van die jaar wanneer niks anders saak maak nie – nie eksamens, nie petrolpryse, nie jou ouma se verjaarsdag nie. Hierdie Saterdag stap jong manne met oë soos honde wat vleis ruik die veld in. Dis skolerugby, en dit gaan rof wees.
👉 Affies vs Maritzburg College
Die manne van Pretoria is reg om die Maritzburg-manne hul eie gras te laat eet. Affies se plan? Skop hard, druk harder, en moenie eers probeer glimlag nie.
👉 DHS vs Jeppe
Durban se seuns teen Jeppestown se staalmae. Hier wag geen modeparade nie, net skrum vir oorlewing en ’n paar verbande ná die fluit.
👉 Outeniqua vs Stellenberg
George se Buffels teen Stellenberg se slinksheid. Dis berge teen strategie. Outeniqua wil breek, Stellenberg wil laat lyk of hulle nie sweet nie.
👉 Garsfontein vs Monnas
Garsies gaan probeer wys dat hulle nie net gym biceps het nie. Monnas, intussen, kom met daardie Krugersdorp-blik in die oog: “Jy gaan nie net nie wen nie, jy gaan onthou hoekom nie.”
👉 Fichardtpark vs Trio
Die Vrystaat-derby van die naweek. Fichardtpark wil wys hulle’s meer as net netbalondersteuners. Trio? Hulle het net een plan: loop oor alles wat beweeg.
Spekskiet Nuusflits
Motshekga belowe verdediging – SANDF vra: “Teen wie?”
Spekskieter Angie Motshekga, tydelik aan die stuur van Verdediging, het die publiek gerusgestel: “Ons sal Suid-Afrika beskerm.” Waarmee is nie duidelik nie – dalk met ’n PowerPoint en ’n piepklein vuvuzela.
“Ons voel vol selfvertroue oor ons vermoë om ons grondgebied te verdedig,” het sy gesê, terwyl die laaste operasionele straalvliegtuig agter haar ingeduik het vir ’n batterylaai.
Op papier bestaan die SANDF uit duisende soldate, skepe en vliegtuie. In werklikheid?
– Eén jet wat vlieg, maar net as dit nie reën nie.
– Een fregat wat meer tyd in droogdok spandeer as op see.
– Een duikboot wat laas gesien is toe die Titanic nog bo gedryf het.
En dít alles onder leiding van ‘n minister wie se militêre ervaring waarskynlik eindig by die uitdeel van eksamenpapiere onder spanning.
Spieëlbeeld
Episode 1: Terugskyn
Die bar was die tipe plek waar jou siel ’n jas nodig het — donker hout, donkerder oë, en ’n klavier wat al drie keer probeer het om selfmoord te pleeg. Selfs die rook het in Frans gefluister. Ek’t agter gesit, in die hoek waar die lig bang is om in te kyk, met ’n glas wat ek nie onthou het om te bestel nie.
Sy’t ingekom soos ’n lied wat jy probeer vergeet het. Rooi lippe. Satynrok wat aan haar vasklou soos ’n skuldgevoel. Hakkies wat praat sonder om te vra. Nuusnooi.
Sy’t my reguit gevind, soos altyd. Die wêreld kon brand, en sy sou nog weet waar ek sit.
“Ek’t hom gesien,” sê sy. Geen voorwoord. Geen soen op die wang nie. Net daai stem — seker, sag, gevaarlik.
“Wie?” vra ek sonder om op te kyk. Ek’t reeds geweet.
“Damien.”
Ek kyk op. Een wenkbrou. ’n Half glimlag, die tipe wat jou teen die tande byt. “Damien du Plessis?” Ek sê dit stadig, soos iets wat lank laas stof gesien het.
Sy knik. “Hy’s terug. Lyk goed. Werk vir ’n private intelligensie firma. Internasionaal.”
“Dis nice,” sê ek. Ek’t vir haar ’n dop ingegooi — iets skerp, iets wat brand soos waarheid.
“Hy’t my raakgeloop in Melville. Het gesê ek lyk soos altyd.”
“Dis ’n veiliger ding om te sê as wat hy regtig dink,” sê ek en vat ’n sluk.
Sy sit langs my. Nader as nodig. Haar parfuum tref my soos ’n belofte met agterdog in die oë.
“Hy het gevra oor ons,” sê sy.
“Wat het jy gesê?”
“Ek het gesê daar is nie ’n ons nie.”
“Dis korrek,” sê ek. Die glas in my hand voel ligter.
“Hy’t my genooi vir aandete môreaand. By daai nuwe plek in Parkhurst wat net wagyu en wyn doen.”
Ek sê niks. Ek hou haar dop, draai ek my kop stadig.
Hy’s daar.
Damien du Plessis. In lewende lywe. ’n Pak wat sê "ek’s nie goedkoop nie", hare net effens los, glimlag wat gloei sonder om te sweet. Hy’t ingeskuif soos iemand wat weet hy’s welkom, al’t niemand hom genooi nie. Hy’s reeds besig om vir hom ’n stoel nader te skuif toe ek hulle dophou.
My oë gly oor sy das — blink, duur, nutteloos — en dan terug na haar. Haar oë meet myne.
“Julle twee maak ’n oulike paartjie,” sê ek. Sag. Net hard genoeg dat hulle moet kies of hulle dit wil hoor.
Die stilte bly ’n sekonde te lank. Net lank genoeg vir iets om dood te gaan wat niemand wou erken nie.
Damien glimlag soos ’n vent wat dink hy’t pas ’n geveg gewen waarvan niemand geweet het nie.
Sy kyk na my. Daai blik wat vra of ek ernstig is, of ek spot. Sy weet net sy voel iets. En ek lyk soos iemand wat glad nie voel nie.
Ek staan op. Trek my jas reg. “Ek gaan vuurmaak. Koue nag.”
“Jy’t nie ’n kaggel nie,” sê sy.
“Ek weet,” sê ek, en stap weg, my sigaret al aan, al brand.
[Einde van Episode 1]
Begin jou dag met ‘n glimlag! Teken in op Witblits Se Nuusflits, dis gratis!