Witblits se Saterdag 28 Junie 2025 Nuusflits
Hoof Nuusflits
Crime Intelligence: So geheimsinnig, selfs hul korrupsie het skuilname
Die hoof van Suid-Afrika se Misdaadintelligensie, luitenant-generaal Dumisani Khumalo, is Donderdag gearresteer. Hy sluit aan by ’n groeiende alumni van polisiemanne wat ondersoek moet lei, maar nou self op die verkeerde kant van die hofbank sit.
Die klagte hou glo verband met onwettige aanstellings, maar Khumalo se naam het al vroeër op geduik tussen hotel-skandale, geheime fondse, en selfs ‘n klomp kokaïen wat skielik verdwyn het — nes sy geloofwaardigheid.
Dis nie net hy nie: sy finansiële hoof, generaal Philani Lushaba, is ook in die moeilikheid ná ‘n partytjie waar ‘n sekswerker met sy laptop, dienswapen en foon weggeloop het. Hy’t eers gesê daar was ‘n huisbraak. Toe blyk dit dis net sy waardigheid wat gesteel is.
Witblits sê: Die enigste ding wat hierdie klomp reg ondersoek, is hoe om nie gevang te word nie — en selfs dít kry hulle verkeerd.
Plaaslike Nuusflits
DA dreig ANC met erns, woede, en moontlik nog 'n ferm verklaring in PDF-formaat
John Steenhuisen, leier van die DA en hoofwoordvoerder van Alles Wat Reg Is Maar Niemand Lees Nie, het President Ramaphosa ‘n 48-uur ultimatum gegee. Die eis? Verwyder ministers met korrupsie-vlekke, of… of... ja, wat dan presies?
Ramaphosa se reaksie was so stil soos ‘n Zondo-verslag na middernag. Intussen is DA se Andrew Whitfield stil-stil afgedank nadat hy blykbaar sonder toestemming na die VSA is — waarskynlik om vir nog hulp te vra, of net om vars lug te kry.
Steenhuisen, duidelik woedend, het verklaar dis 'n “politieke aanval” op die DA. Hy sê die DA is nou in ‘n krisisberaad. Mense het begin fluister: Gaan hulle dalk uit die GNU stap? Of gaan hulle net weer daardie woedende skrywe op DA-briefhoof uitstuur?
In ‘n dramatiese verklaring het Steenhuisen gesê: “Wat volgende gebeur, is op Ramaphosa.” Intussen weet die res van ons: wat volgende gebeur, is waarskynlik absoluut niks.
Witblits sê: As die DA nog nader aan die ANC skuif, moet hulle dalk net saam 'n nuwe party begin — “Die Stemme van Gematigde Onbeduidendheid.”
Internasionale Nuusflits
Media kla: AI vat ons klieks, nie ons klets nie
Hoofstroom nuusmedia gil en grom oor AI-soektogte wat hul blou skakels vervang en lesers se aandag steel. Volgens media-ontleders is ChatGPT, Grok en Perplexity nou ’n eksistensiële bedreiging. Want sien, mense soek nou antwoorde – nie advertensies en agenda’s nie.
Die Franse media wysvingerprogram Scoop het hierdie week ’n gas gehad wat verduidelik het hoe AI die hele nuusbedryf in gevaar stel. Veral dié deel van die bedryf wat nie werklik nuus produseer nie, net menings in die plek van feite.
Witblits sê: Huil maar, dames en here. Witblits se Nuusflits kry ook geen vergoeding nie. Ons het net iets probeer wat julle lankal moes: kreatiwiteit… en eerlikheid.
Konflik Nuusflits
GAZA: Wag vir brood, kry koeëls
In Gaza staan mense in tou vir kos. Hulle hou nie wapens vas nie – net hoop. Maar volgens IDF-soldate is dit rede genoeg om los te trek. Volgens ‘n onthulling in Haaretz is honderde Palestyne in die afgelope maand doodgeskiet terwyl hulle by hulpstasies gewag het. Geen dreigement. Geen waarskuwing. Geen skande nie.
Sommige soldate praat van 'n "slagveld". Ander van “Operation Salted Fish” – ‘n naam wat klink soos iets uit ‘n kinderpartytjie, maar eindig soos ‘n begrafnis.
Die “Gaza Humanitarian Foundation”, wat blykbaar kos moet bring, is opgerig deur Israel en ‘n groep evangeliste met meer as gebedskaartjies op hul agenda. Die sentrum gaan oop, en die skietery hou op. Tot die volgende oggend. Dan begin dit weer. Want in hierdie stelsel is menswees nie meer ‘n voorvereiste vir lewe nie.
Witblits sê: Wanneer koslyne gevaarliker is as frontlinies, is dit nie meer oorlog nie – dit’s moord. En iemand moet dit stop.
Youtube Nuusflits
JD Vance en die Rooi Knoppie: Trump se kerngeheim ontbloot
JD Vance, Trump se nuwe visepresident, het ’n storie gedeel wat die wêreld amper laat op die grond laat lê het – van lag én vrees.
Tydens ’n gespanne oproep met ’n buitelandse leier sit Trump hom op "mute", kyk vir Vance en sê: "This is not going very well." Toe druk hy die rooi knoppie.
Vance se oë rek soos iemand wat pas SANRAL se tariewe gesien het. Hy fluister: “Meneer die President… was dit nou…?” Trump antwoord droog: "Nuclear."
Twee minute later stap ’n man in. In sy hand: ’n Diet Coke.
Witblits sê: Wanneer Trump dors is, kry jy ’n blik gas in plaas van ’n gasblits. Amerika se kernstrategie? Koeldrank en komedie..
X Nuusflits
GBU-57: Dis nie ‘n krater nie, dis ‘n konsep
Die Pentagon sê hul bunker buster het geen krater by Fordow gemaak nie — want dis ontwerp om diep te grawe voor dit ontplof. Maar ‘n vlieënier sê dit was “die helderste ontploffing ooit”.
Geen foto’s, geen rook, geen krater — net twee bewerings wat mekaar kanselleer. Jy kan nie sê daar was niks om te sien nie én dit was die grootste ligshow ooit nie.
Witblits bly skepties. As ’n bom ontplof in Iran en niemand sien of hoor iets nie — het dit ooit gebeur? Of was dit net nog ’n duur vuurwerkvertoning vir die interne begroting?
Witblits sê: As dit so aangaan, gaan die Pentagon binnekort hul wapens met Corral Paint demonstreer. In Comic Sans.
Kultuur Nuusflits
Afrikaners trek weer op – dié keer vir basaar
Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) vier op 9 Augustus hul 150ste bestaansjaar, en dié keer gaan dit nie oor trekosse en geskrifte nie — dis basaartyd, boet!
Die Voortrekkermonument se Markplein gaan gons van pret: van boeke tot boerewors, van tombola tot toffieappels, en natuurlik, daai geheimsinnige basaarpoeding wat jy net een keer per dekade sien. Daar’s ’n pretloop vir die fikses en ’n musiekprogram vir die sit-luister-susters.
Afrikaanse legendes gaan opdaag, pannekoek gaan vlieg, en as jy nie ten minste een item met ’n raffel wen nie, was jy nie regtig daar nie.
Witblits sê: Dis kultuur met karamel, geskiedenis met konfyt, en jy gaan nie met leë hande huis toe nie.
Sport Nuusflits
Red Bull se nuwe spanleuse: “You don’t need wings, just emotional support”
Sebastian Vettel, eens wêreldkampioen, nou voltydse wêreldredder, wil glo Helmut Marko opvolg as Red Bull-adviseur. Hulle het reeds ligte gesprekke gehad — waarskynlik oor feminisme, windkrag en hoekom enjinolie mans te manlik maak.
Vettel is al gesien by Race4Women-geleenthede, want as daar een plek is wat regtig vra vir ‘n feministiese opmars, is dit mos F1.
Bronne sê die span oorweeg ‘n nuwe motto: “You don’t need wings, just emotional support.”
Witblits sê: As Vettel oorneem, moet Verstappen dalk leer om om verskoning te vra as hy iemand verbysteek.
Spekskiet Nuusflits
Lamola kry “apologie” – van wie? Van die tannie wat sy Engelse opstelle gemerk het?
Ronald Lamola sê die VSA het amptelik omverskoning gevra omdat hulle nie die G20-voorberaad bygewoon het nie. Die probleem? Dis nie waar nie. Die VSA het net verduidelik hoekom hulle nie kon kom nie — iets wat in normale mense-taal as “’n kennisgewing” tel, nie ’n “ek is jammer” nie.
Maar Lamola, wat blykbaar sy Engelse woordeboek op Wish bestel het, het besluit om die brief as ’n apologie te verkoop. Waarskynlik omdat dit mooier klink as: “Hulle’t ons geghost.”
Witblits sê: As jy al só gewoond is daaraan dat mense jou ignoreer, begin enige reaksie soos ’n liefdesbrief klink. Ronnie, ’n brief is nie ’n apologie nie — dis ‘n nee dankie, net netjies verpak.
Spieëlbeeld
Episode 3: Rooiwyn en Rookskerms
Die wyn rooi en fluweelagtig, met daardie skemer van beloftes wat altyd net nét buite bereik bly. Damien skink stadig, elegansie in elke beweging. ’n Kelner bring die bottel met ’n wit handdoek, soos ’n dokter wat presies weet wat hy doen. Toe hy die glas na hom uitsteek, raak sy hand net effens sy hare — lank genoeg vir jou om op te let, kort genoeg om nie alarm te maak nie.
“Jy het nog altyd Merlot verkies,” sê hy sag, “nie té vol nie, net genoeg ruggraat.”
Nuusnooi glimlag net ’n bietjie. “En jy het nog altyd te veel op klein goed gelet.”
“Dis waar die geheime lê,” antwoord hy, ’n sagte lag in sy oë. “Jy het my dit geleer.”
Sy kyk hom deur die glas heen aan. “Ek het jou ook geleer wanneer om stil te bly.”
Dit voel nie soos ’n aanval nie, meer soos ’n herinnering. Haar lippe vou om die rand van die glas, rooiwyn teen rooi lipstiffie. Hy kyk — nie gulsig nie, maar met die sorg wat jy aan ’n breekbare ding gee.
“Dis lank terug,” sê hy, “en ek’s nie hier om ou wonde oop te krap nie. Ek wou net ’n aand hê. Net een.”
Sy hou hom dop. Daardie sagte glimlag. Die stem wat gly soos sagte leer oor ’n donker kamer. Die hele houding van iemand wat weet hoe om welkom te wees, maar dalk nie heeltemal welkom is nie.
“Jy het mooi gekies,” sê sy. “Dis klassiek. Bietjie meer styl as wat ek onthou.”
“Ek’t geleer,” sê hy. “Mense verander. Jy ook. Jy’t iets... sterker. Miskien was dit altyd daar.”
Sy lag liggies, kyk weg vir ’n oomblik. “Moet my nie komplimenteer soos ’n man wat skuld probeer afkoop nie, Damien.”
“Ek’s nie hier om skuld af te koop nie,” sê hy stadig. “Ek’s hier omdat ek onthou wie jy is. En miskien... omdat ek hoop dis nie te laat om jou weer te leer ken nie.”
’n Stilte val — net die sagte gerinkel van glas, en ’n jazzliedjie uit die luidsprekers. Niks met woorde nie.
“Ek weet jy werk aan iets,” sê sy uiteindelik. “Iets wat nie net oor ’konsultasie’ gaan nie.”
Hy neem ’n slukkie wyn, kyk haar dan reguit in die oë. “Ek’s in ’n wêreld wat nie vir almal sin maak nie. Maar jy — jy het altyd sin gesoek in dinge waar ander net chaos sien.”
“En jy het altyd geweet hoe om dit mooi te verpak,” sê sy sag. “Woorde. Oë. Beloftes.”
“Ek het nie alles gelieg nie, Nooi.”
Sy kyk hom aan. Warmte lê in haar oë — maar ook ’n waaksaamheid soos ’n mens wat weet hoe naby sy aan ’n oop vuur sit.
“Ek weet.”
Sonder waarskuwing, dink sy aan Witblits.
Aan hoe hy soms net stil is. Stil soos ’n kluis, maar oop genoeg dat jy net dink jy’s besig om in te breek.
Hy’t nooit probeer beïndruk nie.
En tog het hy nog nooit een keer weggekruip nie.
Damien skink nog ’n glas. Sy vat dit met ’n glimlag.
Maar vir ’n paar sekondes proe die wyn soos iets anders.
Soos afstand.
Soos ’n plek waar iemand moes wees — maar nie is nie.
Witblits – ’n paar strate verder
In ’n skaduryke stegie, buite die blik van die glansryke wynkelder, blaai ek deur ’n dossier vol bewyse en internasionale roetes. Die logo OMEGA blink swart en grys in die maanlig. ’n Foto van Damien op ’n lughawe. ’n Aanhaling uit ’n interne memo:
“Target: N. Visser. Approach: Personal. Priority: High.”
Ek sug, steek ’n sigaret aan en kyk oor die stad.
“Dis ’n mooi speletjie wat jy speel, ou maat,” fluister ek.
Ek vee die as af met my vinger en verdwyn in die nag. Stil. Onsigbaar.
[Einde van Episode 2]
Begin jou dag met ‘n glimlag! Teken in op Witblits Se Nuusflits, dis gratis!